Lede van Melbourne se plaaslike regering en omliggende munisipaliteite ondersoek tans die lewensvatbaarheid van ’n bod om 2026 se Statebondspele aan te bied.
Vanjaar se Statebondspele word in Birmingham in Engeland aangebied, maar die skouspel in 2026 is nog sonder ’n gasheerstad.
Luidens ’n berig in The Age het stadsowerhede reeds verkennende gesprekke met die Statebondspele-federasie (CGF) gehad en is ’n paar voorlopige studies gedoen om te bepaal of Melbourne in ’n kort tydperk die nodige infrastruktuur kan lewer om ’n multi-sportbyeenkoms van dié omvang aan te bied.