Ronald Bantom meen geregtigheid het geseëvier nadat hy en ander lede van die Westelike Provinsie Rugbyunie (WPRU) se uitvoerende komitee ná ’n tugverhoor van die unie vrygespreek is.
Die tugverhoor teen hom, Reuben Rifel, Quintin van Rooyen, Anele Zita en Mario Williams het voortgespruit uit ’n dringende aansoek in die hooggeregshof in Kaapstad waarin hulle onder meer gevra het vir ’n beslissing dat Zelt Marais, die WPRU se president, nie sy vertrouensplig nagekom het nie.
Daar is ook gevra dat Marais nie toegelaat mag word om ’n eiendomstransaksie vir Nuweland met Staytus Cape te dwarsboom nie.