Die Blitsbokke se eie Cristiano Ronaldo keer die naweek na waarskynlik sy gunsteling speelveld terug wanneer die Vancouver-sewestoernooi in Kanada beslis word.
Die 25-jarige Selvyn Davids het goeie herinneringe aan dié toernooi, waar hy in 2019 soos ’n wafferse Ronaldo, die Portugese sokkerspeler, sy vernuf met ’n bal uitgestal het.
Dit was in ’n groepwedstryd teen Wallis toe Davids ’n bal wat omtrent reeds oor die kantlyn was met sy voet terug in die veld geskop het. JC Pretorius het dié beweging afgerond deur ’n drie te gaan druk.