Wallis, Argentinië, Australië, Nieu-Seeland, Japan, Namibië, Italië, Engeland, die Britse en Ierse Leeus, en nou ook Skotland. Daar’s nog nie ’n rugbynasie wat oor die Springbok-vleuel Makazole Mapimpi se pad gekom het teen wie hy nie ’n drie kon druk nie.
Mapimpi se twee drieë in Saterdag se oorwinning van 30-15 oor Skotland op Murrayfield het dit 19 in 24 toetse gemaak – ’n stukkie statistiek wat wys hoe gevaarlik hy is met die doellyn in sig. Trouens, as ’n denkbeeldige Wêreld-vyftiental gekies moes word, sou Mapimpi beslis ’n sterk aanspraakmaker op die nr.11-trui wees.
Die 31-jarige Springbok-drieëvraat was egter beskeie ná sy skitterende vertoning teen die Skotte.