Jake White en die Bulle wil Sondag, net soos verlede jaar teen Leinster, vriend en vyand verras wanneer hulle in die Europese Kampioenebeker-reeks teen Toulouse te staan kom.
Die Bulle het verlede jaar in ’n wegwedstryd ’n sterbelaaide Leinster-span met 27-26 in die halfeindronde van die Verenigde Rugbykampioenskap geklop, maar sal nou weer eens karakter moet wys indien hulle Toulouse wil omdop.
Anders as verlede jaar, sukkel die Bulle tans in drie kompetisies met hul spelpeil en min sal hulle ’n kans gee teen ’n Toulouse-span wat gelaai is met nie minder nie as 12 internasionale spelers wat deel van die Franse groep was vir die afgelope Sesnasies-reeks.