Hoewel hulle nie Saterdag op Loftus Versfeld sal wees nie, weet die Blou Bulle hul ondersteuners is in hart en siel daar.
So sê Marcell Coetzee, kaptein van die Ligbloues, oor die Curriebeker-eindstryd wat Saterdag vir ’n tweede agtereenvolgende seisoen (in dieselfde jaar) tussen die Bulle en die Haaie weens Covid-19-regulasies op ’n leë Loftus beslis word.
In die Bulle se goue jare van sowat ’n dekade gelede, het fanatiese ondersteuners reeds op ’n Sondagaand by Loftus in ’n ry gaan sit en oorgeslaap om die volgende oggend daar te wees wanneer die unie se kaartjiekantoor oopmaak.