Die Springbokke se verlies is die Haaie se wins.
Die Bok-stut Thomas du Toit, bekend as die “Tenk”, is onverwags in die Haaie se beginspan ingesluit vir die Curriebeker-eindstryd teen die Blou Bulle Saterdag op Loftus Versfeld. Hy was deel van die Bokke se Rugbykampioenskapsgroep in Australasië, maar het teruggekeer na Suid-Afrika ná die afsterwe van ’n familielid.
“Hy is nou al twee weke by die huis en beskikbaar dat ons hom kan kies. Die enigste voorwaarde wat ons het vir terugkerende Springbokke, is dat hulle van die (vorige) naweek af by ons moet aansluit en hy het,” sê Sean Everitt, die Haaie se breier.