Alwayno Visagie, wat verlede jaar deel was van die Pumas wat die Curriebeker-reeks gewen het, is in die Haaie se beginspan ingesluit vir Saterdag se wedstryd in dié reeks teen die Leeus in Johannesburg.
Visagie (27) is een van drie veranderinge (wat ’n posisionele skuif insluit) wat Joey Mongalo, afrigter van die Haaie se Curriebeker-span, aan die beginspan aangebring het wat die Westelike Provinsie verlede naweek geklop het.
Visagie, wat verlede naweek ’n plaasvervanger was, sal op linkervleuel diens doen in die plek van die beseerde Marnus Potgieter.