Die Westelike Provinsie het die oud-Springbokke Scarra Ntubeni (haker) en Juan de Jongh (senter) in hul Curriebeker-span ingesluit om die Leeus Vrydag in die Athlone-stadion in Kaapstad die stryd aan te sê.
Die Leeus het op hul beurt die knap senter Marius Louw ná ’n dyspierbesering nadergeroep om dié span aan te voer in die plek van die haker Jaco Visagie, wat ’n blaaskans gegun word. Louw het die Leeus die laaste paar maande ook in die Verenigde Rugbykampioenskap (VRK) gelei.
Die Johannesburgers, wat met 26 ligapunte die sewende plek op die punteleer beklee, móét wen om steeds in die wedloop om ’n plek in die halfeindronde te bly, terwyl die WP (31), wat in die vierde plek is, met ’n oorwinning sy posisie sal verstewig om in die uitkloprondes te speel.