Die Westelike Provinsie het Vrydagaand slegs sy tweede oorwinning in vanjaar se Curriebeker-reeks behaal toe hy die Pumas in Mbombela geklop het.
Die Kapenaars het naelskraap met 23-17 gewen. Hul laaste oorwinning in die reeks voor Vrydagaand s’n was op 15 Januarie teen die Leeus in Kaapstad.
Daar was drama in die doodsnikke. Met minder as ’n minuut se speeltyd oor, het die stadion se ligte ’n oomblik lank afgegaan. Toe gaan van die ligte aan – maar nie almal nie. Die skeidsregter, Morné Ferreira, het aangedui dat hy wag vir die ligte om aan te gaan.