Gee vir Wayne Pivac tyd.
Dít is die pleidooi van Eddie Jones, Engeland se afrigter, aan kritici van sy eweknie van Wallis se rugbyspan voor Saterdag se Nasiesbeker-kragmeting tussen dié spanne op die Parc y Scarlets in Llanelli.
Pivac het ná verlede jaar se Wêreldbeker-toernooi in Japan die leisels by Warren Gatland geneem en die Drake het sedertdien glad nie waffers vertoon nie. Hulle het hul Sesnasies-veldtog weliswaar met ’n oorwinning van 42-0 oor Italië begin, maar daarna ses keer verloor voor verlede naweek se onoortuigende oorwinning van 18-0 oor Georgië.