Hanru Sirgel, flank van Griekwas, was die groot wenner op die Noord-Kapenaars se afskopfunksie vir die nuwe jaar waar die Griekwaland-Wes-rugbyunie (GWRU) sy uitblinkers van 2022 vereer het.
Sirgel (24) is benewens die gesogte toekenning as Speler van die Jaar, ook vereer as die Poubloues se Voorspeler van die Jaar, sowel as die Spelers se Speler van die Jaar. Die funksie is Vrydagaand by die GWRU se tuiste, Windhoek Draught-park in Kimberley, gehou.
Sirgel het ’n groot rol daarin gespeel dat Griekwas verlede jaar die eerste keer sedert 1970 weer in die Curriebeker-eindstryd gespeel het. Die Poubloues het helaas in die eindstryd met 19-26 teen die Pumas in Kimberley verloor.