Met die koms van die senter Rohan Janse van Rensburg na Durban sal die Haaie op die tradisie voortbou om ’n groot, fisieke speler as binnesenter te kies.
Die Haaie het Woensdag in ’n plasing op sosiale media aangekondig dat Janse van Rensburg (27) ’n kontrak onderteken het om die volgende drie jaar sy rugby in Durban te speel.
Daar was reeds geruime tyd sprake dat dié voormalige Springbok, wat in 2016 in een toets gespeel het, op die Haaie se wenslys is. Janse van Rensburg, wat die skaal op meer as 100 kg laat kreun en 1,85 m lank is, het sedert 2018 vir die Engelse klubspan die Sale Sharks gespeel.