Gwyn Jones, ’n voormalige kaptein van Wallis se rugbyspan, het die Britse en Ierse Leeus se reeks teen Suid-Afrika vanjaar as ’n “ramp” beskryf en meen dat Warren Gatland nie weer toegelaat moet word om hulle af te rig nie.
Hy kom ook die Springbokke by in sy rubriek vir walesonline.co.uk en sê ’n “toksiese omgewing” is deur albei spanne se afrigters geskep, wat die spel “tot ’n nuwe laagtepunt” geneem het.
“Die twee mees hardekwas-afrigters in wêreldrugby het mekaar probeer klop deur die negatiefste te wees. Rugby het op en weg van die veld nuwe laagtepunte bereik,” skryf Jones.