Die Junior Springbokke het Dinsdagaand spiere gebult in hul laaste groepwedstryd in die o.20-Sesnasies-somerreeks teen Frankryk en met ’n oorwinning met 42-27 seker gemaak dat hulle Groep A se wenners is.
Hoewel die wentelling op groot oorheersing dui en die vertoning inderdaad indrukwekkend was, kon die telling groter gewees het as die Suid-Afrikaners se lynstaanspel in die eerste helfte op die aanval meer klinies was. Ook die verdediging het ’n bietjie gelol met Frankryk wat dikwels baie meters gebuit het.
Nietemin was daar oor die 80 minute bitter min angs te bespeur. Daar was slegs kommer toe Juann Else in die 56ste minuut ’n geel kaart gekry het vir ’n hoogvat en Louis Bielle Biarrey twee minute later afgerond het om die Franse weer binne trefafstand te kry nadat hulle met 12 punte agter was.