Die enigste toeskouers was die 200 of so mense wat hul dagtake daar verrig het, maar emosie het selde by ’n Springbok-toets in die moderne era al só dik in die lug gehang as Saterdag in die Kaapstad-stadion.
In ’n neutedop was dit oorlog tussen Suid-Afrika en die Britse en Ierse Leeus. Uiteindelik was dit die Springbokke wat dié epiese wedstryd ná ’n uitsonderlike tweede helfte met 27-9 gemaklik gewen het.
Die momentum is nou sterk in die tuisnasie se guns voor die beslissende derde toets volgende Saterdag, weer in die Moederstad.