’n Tikkie senioriteit kan dalk net die doepa wees wat die Westelike Provinsie nodig het om die Bulle in Vrydagaand se Curriebeker-rugbywedstryd op Loftus Versfeld in Pretoria te kan troef.
John Dobson, die WP se afrigter, het vir Ruhan Nel en Hacjivah Dayimani in die 23-tal gekies – onderskeidelik op vleuel en die plaasvervangersbank. Nel is slegs daar omdat die WP ’n beseringskrisis op vleuel ervaar, terwyl losvoorspelerster Dayimani gekies is om ná twee maande op die krukkelys sy wedstrydfiksheid te herwin voor die Stormers se volgende Verenigde Rugbykampioenskap-wedstryd teen Leinster in Dublin op 24 Maart.
Hul ervaring sal die WP-span baie handig te pas kom gegewe die vele jong hande in die span.