As die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) nog wik en weeg of hy die Westelike Provinsie Rugbyunie (WPRU) formeel onder administrasie moet plaas, sal die jongste sarsie binnegevegte waarskynlik die laaste strooi wees wat hom daartoe dwing.
Mario Williams, ’n lid van die WPRU se uitvoerende raad, is Maandag in kennis gestel dat hy geskors is en wend hom Vrydag tot die hooggeregshof in Kaapstad om dit tersyde gestel te kry. Boonop vra hy dat Zelt Marais, die WPRU se president, uit die pos van “waarnemende uitvoerende hoof” van die unie onthef word.
Marais is saam met die WPRU ’n verweerder in die saak.