Die woelinge in die direksie van die Westelike Provinsie Rugbyunie (WPRU) se sakevleuel, Western Province Professional Rugby (WPPR), duur onverpoos voort, met nóg ’n direkteur wat bedank het.
Lauren Benjamin, wat in November as ’n onafhanklike direksielid betrek is, het Vrydag by navraag aan Netwerk24 bevestig dat sy bedank het. Sy wou nie die redes vir haar besluit verskaf nie.
Met haar aanstelling was Benjamin vir die sakevleuel ’n groot aanwins danksy haar kundigheid in die gebied van mensehulpbronne. Sy is die hoof van mensehulpbronne by Sanlam Beleggings.