Daar is “geen grondige rede” waarom die Nuweland-rugbystadion as ’n provinsiale erfenisterrein beskou moet word nie.
Dít is die bevinding van onafhanklike konsultante wat deur die Westelike Provinsie Rugbyunie (WPRU) gevra is om die kwessie te ondersoek. Die bevinding en verslag van 93 bladsye is by die Wes-Kaapse Erfenisraad ingedien.
Nietemin is die WPRU se kop nog nie deur om ’n transaksie vir die verkoop van die stadion aan ’n eiendomsontwikkelaar te kan afhandel nie. ’n Proses vir openbare deelname oor ’n tydperk van 60 dae sal eersdaags deur die Erfenisraad van stapel gestuur word alvorens daar duidelikheid sal wees.