Nadat die Suid-Afrikaanse skeidsregter Jaco Peyper toegesien het dat een van sy kollegas by die Wêreldbeker-toernooi in 2019 veilig in die bed kom nadat dié ’n fiets gesteel het, het hy gedink dit was ’n goeie dag.
Min het Peyper (42) geweet wat die volgende oggend op hom sou wag toe hy die eetkamer instap van die hotel in Japan waar hy tuisgegaan het.
Peyper het Woensdag op ’n manne-aand by die Hoërskool Fichardtpark in Bloemfontein sy weergawe van die gebeure vertel wat in 2019 daartoe aanleiding gegee het dat hy nie vir die halfeindstryd tussen Engeland en die All Blacks oorweeg is nie. Hy was ’n spreker by die geleentheid, met Pieter Möller as gespreksleier.