Die Vrystaat-Cheetahs het Vrydagaand in Mbombela karakter getoon om van ’n agterstand van 7-17 terug te veg en later met 35-24 voor te loop, maar in daardie eerste klompie minute van die Curriebeker-kragmeting teen die Pumas het dit maar broekskeur met die Vrystaters gegaan.
Hulle het die wedstryd met 35-31 gewen nadat hulle rustyd nog 7-12 agter was teen ’n begeesterde Pumas-span.
Die groot les vir die Vrystaters is dat hulle sal moet leer om by hul wedstrydplan te hou, want dit kan hulle vorentoe duur te staan kom as hulle so die kluts kwyt raak. Hulle het wel in die tweede helfte met tye gelyk na die span wat verlede jaar so ’n skrikbewind gevoer het.