Die Pumas Rugbyunie het sy senior spanbestuurder “gestraf” oor ’n beweerde voorval toe ’n medebestuurslid “geklap is”, maar weier om te sê watter straf opgelê is.
Die Pumas se president, AG Visser, het aan Rapport gesê hulle sal nie die voorval “toesmeer” nie, maar wou nie vandeesweek nog vrae oor die voorval beantwoord nie. Visser het net in ’n kort WhatsApp-boodskap laat weet die voorval is “afgehandel”.
Rapport het twee weke gelede berig ’n interne ondersoek is gedoen nadat die Pumas se masseuse, Lelani van der Merwe, ’n klag teen die spanbestuurder, Samuel Sikiwe, ingedien het ná ’n onderonsie waarin sy beweer Sikiwe het haar “geklap”.