’n Baie positiewe stap om die grootste voedingsbron van Suid-Afrikaanse rugby te probeer red.
Só het Corné Krige, voormalige kaptein van die Stormers en Westelike Provinsie, Dinsdag gereageer op die nuus dat die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) die WP-rugbyunie (WPRU) onder administrasie geplaas het. Rian Oberholzer, voormalige uitvoerende hoof van Saru, klap nou die sweep by die WPRU, wie se beleërde president, Zelt Marais, geen meer besluitnemingsmagte het nie.
DHL, hoofborg van die WP, Ebrahim Rasool, voorsitter van die WPRU se sakevleuel, Sport Employees Unite (SEU), personeellede by die unie se vakbond, en tydelik geskorste lede van die WPRU se uitvoerende raad het almal Saru se besluit verwelkom.