Dit was onvermydelik dat die Suid-Afrikaanse rugbyspelers se “versuim” om die naweek voor wedstryde in die Engelse Premierliga die knie te buig ter ondersteuning van Black Lives Matter-beweging, ’n turksvy vir die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) sou word.
Verreweg die meeste van die Sale Sharks-spelers het verkies om staande te bly voor die span se wedstryd teen Harlequins en sluit onder andere Wêreldbeker-Springbokke soos Lood de Jager en Faf de Klerk in.
Slegs vier lede van die Sharks se beginspan het op The Stoop gekniel (Marland Yarde, Tom Curry, Simon Hammersley en Sam Hill) en dit het nie ongesiens by Nathi Mthethwa, die minister van sport, verbygegaan nie.