Die Suid-Afrikaanse Rugbyunie se gesloer met hul kontrakte vir volgende seisoen het ’n rits Springbok-sewesspelers op hete kole.
Rapport verneem daar is nog geen klarigheid oor wie se kontrakte vanjaar deur SA Rugby verleng gaan word nie. Dié onsekerheid het oor die laaste paar maande ook ’n groot gesprekspunt in die Blitsbok-kamp geword.
Terwyl Marius Schoeman, die Blitse se hoëprestasie-bestuurder, glo al geruime tyd probeer om dié netelige kwessie met die ringkoppe van SA Rugby uit te sorteer, is daar toenemende kommer in die Blitsbok-kamp dat verskeie spelers, insluitend ’n paar gevestigde manne, ná vanjaar ’n heenkome in vyftiensrugby sal gaan soek.