Siya Kolisi, Springbok-kaptein, het sterk aanspraakmakers soos Lukhanyo Am en Eben Etzebeth uitgestof om as SA Rugby se Speler van die Jaar vir 2021 aangewys te word.
Kolisi, Am, Etzebeth, Damian de Allende en Makazole Mapimpi was die benoemdes. Kolisi is die eerste Bok-kaptein sedert Jean de Villiers in 2013 wat met die titel vereer word.
Kolisi het die Bokke in al 13 hul toetse verlede jaar aangevoer en die span tot ’n reekssege oor die Britse en Ierse Leeus gelei, sowel as ’n oorwinning oor die All Blacks. Sy spelpeil was uitstaande en een van sy beste wedstryde was in die belangrike tweede toets teen die Leeus.