Die Junior Springbokke was miskien bo teen Engeland, maar hul afrigter, Bafana Nhleko, meen daar is baie ruimte vir verbetering in hul Sesnasies-somerreeks.
Nhleko se span het sommer al in die derde minuut die botoon begin voer toe Suleiman Hartzenberg afgerond het ná ’n puik dwarsskop deur Sacha Mngomezulu. Daar was nóg vier drieë in die oorwinning met 30-22 in Verona, Italië, wat die Junior Bokke se eerste internasionale wedstryd in byna 12 maande was.
“Dit was van ons ouens se eerste wedstryd, so ons is redelik in ons skik met die oorwinning,” sê Nhleko.