Die Springbok-vaskopstut, Frans Malherbe, is vinnig besig om ’n Twitter-sensasie te word vanweë sy weeklikse vyfstervertonings vir die Springbokke.
Die 31-jarige Malberhe was in die 51 minute wat hy in Saterdag se wentoets van 27-13 oor Engeland gespeel het, wéér ’n yster.
Die boorling van die Paarl, ’n plat-op-die-aarde mens en een van die gewildste spanmanne in die Bok-groep, het teen Engeland in sy 58ste toets sedert sy internasionale buiging op 9 November 2013 teen Wallis in Cardiff gespeel.