’n Uitgedunde Springbokspan se oortuigende oorwinning van 27-13 oor Engeland op Twickenham het enige onsekerheid oor of Jacques Nienaber en Rassie Erasmus nog die afrigters tydens volgende jaar se Wêreldbeker-toernooi in Frankryk gaan wees by die kantlyn uitgeskop.
Tot voor die Engelse toets het ’n kans bestaan dat hulle poste ’n agendapunt sal wees wanneer die hoofraad van die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) vroeg in Desember vergader.
Nienaber-hulle het tot voor die Engelse toets vanjaar ’n wenrekord van 58% met sewe oorwinnings uit 12 toetse gehad. Vrese het boonop bestaan dat die Bokke November se toer ná nederlae teen Ierland en Frankryk met slegs een oorwinning uit vier toetse met ’n moontlike nederlaag op Twickenham sal afsluit.