Die land se klein unies wil op 10 Desember se virtuele vergadering van SA Rugby se hoofraad saamstaan in die hoop om ’n groter jaarlikse toelaag vir elke beheerliggaam en beter kompetisiestrukture vir hul spelers te beding.
Die Pumas, Cheetahs, Griekwas, Griffons, Valke, SWD-Arende, Boland, OP en Luiperds se presidente, uitvoerende hoofde en maatskappyvoorsitters het verlede Woensdag reeds op ’n virtuele Zoom-vergadering twee komitees gevorm om voorstelle te formuleer wat hulle op 10 Desember se vergadering as oplossings wil voorlê.
Hulle vergader weer Woensdag virtueel. Die pad vorentoe wat hul verhouding met Sareo, die unies se werkgewersorganisasie, betref, kan op die vergadering weer onder die vergrootglas geplaas word.