Duane Vermeulen is uit Julie se drie tuistoetse teen Wallis as gevolg van ’n kniebesering wat hom al geruime tyd las gee. In sy plek word Marcell Coetzee beloon met ’n plek in die Springbok-groep nadat hy vir die twee nasionale belyningskampe die koue skouer gekry het.
Coetzee was die afgelope twee naweke so ’n bielie in die Bulle se veldtog in die Verenigde Rugbykampioenskap dat die nasionale keurders besluit het om die groep vir Julie se toetse tot 43 spelers uit te brei. Dit is nadat Jacques Nienaber (Bok-afrigter) vroeër die week op ’n nuuskonferensie gesê het die groep sal uit 42 spelers bestaan.
Die 31-jarige Coetzee was so inspirerend as speler en kaptein in die Bulle se halfeind-oorwinning van 27-26 oor Leinster in Dublin dat Nienaber-hulle hom vir sy uitstaande spel moes beloon.