Die veranderinge aan die Springbokke se beginspan vir Saterdag se toets teen Engeland op Twickenham is bloot rotasie en spelers soos Herschel Jantjies, Elton Jantjies en Franco Mostert het nie die trekpas gekry nie.
Jacques Nienaber, die Bok-breier, het daardie punt Dinsdag duidelik gemaak toe hy die sluier oor sy 23-tal gelig het.
Herschel en Elton is onderskeidelik deur Cobus Reinach en Handré Pollard vervang in die span wat verlede week vir Skotland geklop het, terwyl Lood de Jager bo Mostert gekies is.