Hy gaan dalk nie in die vlees daar wees nie, maar moenie die Rassie Erasmus-effek op die Springbokke onderskat in Saterdag se rugbytoets teen Engeland op Twickenham nie.
“Sy gees sal altyd daar wees,” sê Mzwandile Stick, hulpafrigter van die Bokke, Vrydag oor Erasmus, wat weens sy skorsing deur Wêreldrugby tot 30 September volgende jaar nie wedstryde mag bywoon nie.
“Natuurlik sal ons hom mis, maar een ding wat ek jou kan waarborg, is dat sy gees altyd daar sal wees. Ons is hier vir hom, gee om vir hom en het baie agting vir hom. Dit sal ons waarskynlik motiveer om selfs beter te speel, want ons weet wat hy vir baie van ons in die span gedoen het. Hy is ’n baie, baie spesiale ou.”