Rassie Erasmus soek ’n “skeidsregter-afrigter” om saam met die Bokke na vanjaar se Wêreldbeker-toernooi in Frankryk te reis.
Erasmus, die land se direkteur van rugby, het dié plan verlede week op ’n vergadering van die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) se uitvoerende komitee bekend gemaak. Hy het ook op dié vergadering, wat Saterdag en Sondag in die Cullinan-hotel in Kaapstad plaasgevind het, gesê hy en Jacques Nienaber het weer vir Eugene Henning by die bestuurspan betrek. Henning is die uitvoerende hoof van MyPlayers en was in 2019 saam met die span in Japan as ’n spreekbuis vir die spelers.
Wie presies die rol van “blaser-breier” gaan vertolk, en of dit deurgevoer gaan word, is nog onduidelik. Dié plan is ’n voortsetting van ’n konsep waarmee Erasmus-hulle reeds by 2019 se Wêreldbeker-toernooi begin het.