Die vooruitskattings vir die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) se begrotingstekort vir hierdie boekjaar is met meer as die helfte gesny, maar die beheerliggaam bly onder druk.
Prestasiebonusse vir die Springbokke en hul bestuurspan is in hierdie stadium die grootste item wat druk op die begroting plaas. Ná wat verneem word, kan dit Saru meer as R80 miljoen in wedstrydgeld en bonusse kos indien die Bokke daarin slaag om in Oktober aan die Webb Ellis-trofeë vas te klou.
Die syfers is nie amptelik bekend nie, maar betroubare bronne het aan Netwerk24 gesê dat die bedrae wat in die 2019-toernooi aan die spelers en afrigtingspan betaal is, vanjaar met inflasie bygewerk sal word. In 2019 was die wenbonusse altesame blykbaar in die omgewing van R65 miljoen.