Die sesde rat wat die Springbokke teen Frankryk gevind het, teen Italië geolie het en Saterdag op Twickenham in die oorwinning van 27-13 oor Engeland gereeld gebruik het, gee Siya Kolisi se span 'n slaagsyfer vir hul toetse in November.
Die Bokke het in die proses op toer ontslae geraak van hul reputasie dat hulle ’n vervelige span is. Danksy die Bokke se nuwe aanvallende benadering was hulle op Twickenham selfs in ’n posisie om ’n yslike terugslag soos die plaasvervanger-stut Thomas du Toit se rooi kaart ná sy gevaarlike duikslag in die 61ste minuut voor sowat 81 000 vyandige Engelse skare te oorleef.
Damian Willemse, Kurt-Lee Arendse en Willie le Roux het Suid-Afrika op Twickenham daardie sesde rat op die aanval gegee.