Ondersteuners van die Bulle het aanvanklik dalk gefrons oor dié unie se besluit om “ou” manne soos Morné Steyn en Juandré Kruger te kontrakteer, maar dié veterane word deur die Stormers as gevaarlike manne in Saterdag se Superrugby-derby op Nuweland beskou.
Die 35-jarige Steyn se skopstewel is wat die Stormers veral onrustig maak, maar die Kapenaars se verdedigingsafrigter, Norman Laker, sê dié voormalige Springbok-losskakel is gewis nie eendimensioneel nie.
“Morné het in die Superheld-wedstryd (op 19 Januarie teen die Leeus) aanvallend gespeel. Hy’s ’n kwaliteit-losskakel en aanpasbaar. As die omstandighede hardlooprugby vereis, sal hy dit doen. Maar ja, hy is ’n fenomenale skopper. Dís waarom hy 66 toetse vir Suid-Afrika gespeel het,” het Laker Maandag in die Westelike Provinsie se Sentrum vir Uitnemendheid in Bellville gesê.