Tuks het Maandagaand in Stellenbosch ’n opeenvolgende nederlaag in vanjaar se Varsitybeker-rugbyreeks gely toe die Maties hulle met 46-35 geklop het.
Met die afskop in vanjaar se reeks was dit ondenkbaar dat dit só sleg met die Tuks sou gaan, maar hulle speel eenvoudig nie oor 80 minute volgens hul potensiaal nie. Hulle verdien wel krediet vir ’n moedige terugvegpoging in die tweede helfte, maar jy gaan nie ’n wedstryd wen as jy teen rustyd teen ’n sterk teenstander met 7-31 agter is nie.
Tuks het baie geleenthede geskep, maar hul afronding het veral in die eerste helfte veel te wense oorgelaat.