Die Varsitybeker-rugbyreeks sal volgende jaar, vir die eerste keer sedert die begin van die Covid-19-pandemie, so te sê na normaal terugkeer met tuis- en wegwedstryde wat gespeel sal word en toeskouers wat in die stadions toegelaat sal word.
Dit is die vernaamste punte waarop ringkoppe van die reeks en afgevaardigdes Dinsdag op ’n vergadering besluit het.
Dié studentereeks begin op 14 Februarie met die verdedigende kampioen, Tuks, wat in Pretoria teen die Maties te staan sal kom. Vanjaar se naaswenner, die Ikeys, sal na Potchefstroom reis om kragte met die Noordwes-Universiteit (NWU) te meet. Dié twee wedstryde word albei op SuperSport uitgesaai.