Toe daar onlangs verwys is na aanwinste wat die Stormers gaan versterk, het die Kaapse span se ondersteuners waarskynlik nie vir Brok Harris in gedagte gehad nie.
Harris, ’n vaskopstut, het tussen 2006 en 2014 120 wedstryde vir die Westelike Provinsie en 93 vir die Stormers gespeel en is nou ná sewe seisoene in Wallis terug om sy ou span te help.
Ofskoon dit eers vir niks meer as die Stormers se eerste Europese toer in die Verenigde Rugbykampioenskap (VRK) gaan wees nie en hy slegs sal speel indien die nood druk, sê die haker Scarra Ntubeni dat Harris waardevolle insette lewer.