Vergesog om te dink dat die Stormers en Bulle mekaar oor twee naweke in ’n Verenigde Rugbykampioenskap-eindstryd in Kaapstad die stryd sal aansê?
Aikôna, sê Dillyn Leyds, ’n voormalige Springbok-vleuel wat nou vir die Franse klub La Rochelle speel. Die 29-jarige Leyds was die Speler van die Wedstryd in die Europese Kampioenebeker-eindstryd in Marseille, waar La Rochelle vir Leinster met 24-21 geklop het.
Leinster is die Bulle se teenstander in Vrydag se VRK-halfeindstryd in Dublin, terwyl die Stormers Saterdag tuisveldvoordeel gaan hê teen Ulster.