Die Haaie se afrigtingspan is uitgebrei met die aanstelling van die Fransman Yannick Bru – ’n voormalige toetsspeler van die Hane.
Die Durbaniete het Sondag in ’n verklaring aangekondig Bru (49) sal in die oorsese kompetisies verantwoordelik wees vir die Haaie se spel by die afbreekpunte.
Bru was in sy speeldae ’n haker wat tussen 2001 en 2004 in 18 toetse vir Frankryk gespeel het. Hy was tussen 2012 en 2017 die Hane se voorspeler-afrigter, voordat hy in 2018 die leisels as hoofafrigter van die Franse klubspan Bayonne geneem het.