Die voorrymanne van die rugbywêreld word van kleins af geleer om hul kop in klein en donker spasies te druk. Wat waarskynlik verduidelik waarom die oud-Springbok-stut Julian Redelinghuys Dinsdag nie gehuiwer het om sy kop in ’n spreekwoordelike byenes te druk nie.
Redelinghuys – ’n man wat sy rugby so hard gespeel het dat hy op 27 moes uittree weens een nekbesering te veel – is Dinsdag in sy hoedanigheid as die Leeus se skrumafrigter gevra vir sy mening oor die hardhandigheid, al dan nie, waarmee die stut Carlu Sadie Saterdag in ’n VRK-wedstryd teen die Bulle by ’n losgemaal ingestorm het. Sadie het die Bulle-haker Johan Grobbelaar met die skouer getref en was volgens sommige waarnemers gelukkig om nie van die veld gejaag te word nie.
Redelinghuys wou hom nie uitlaat oor die meriete van die argument dat Sadie minstens geel moes gesien het nie, maar het die geleentheid gebruik om sy vrees uit te spreek dat rugby “te sag raak”.