Die Stormers is van ’n tuis-kwarteindstryd en die Suid-Afrikaanse Skild in die Verenigde Rugbykampioenskapsreeks verseker ná ’n doodsnik-sege van 26-21 oor die Scarlets, Saterdag in Wallis.
Ruhan Nel, buitesenter van die Kapenaars, se tweede drie met speeltyd verstreke, het dié bonuspuntsege verseker in ’n wedstryd én einde, wat Stormers-ondersteuners, en die span se afrigters, met hul harte in hul kele gelaat het.
Dit was so byna ’n gelykop-uitslag met die telling 21-21 met drie minute speeltyd oor nadat die Stormers toegelaat het dat die Scarlets in die laaste 10 minute sake met ’n drie gelyk trek.