Daar is meer as net die lekkerte van wen op die spel vir Suid-Afrikaanse rugby wanneer die Stormers en Munster mekaar in Saterdagaand se Verenigde Rugbykampioenskap (VRK)-eindstryd in die DHL-stadion pak, meen Rassie Erasmus.
“Ek dink nie dit gaan net oor ’n lekker gevoel nie,” het die Suid-Afrikaanse Rugbyunie se direkteur Donderdag op ’n nuuskonferensie in Kaapstad gesê.
“Dis nie ’n geval van momentum wat na die nasionale span toe oorgedra word nie, dit skep spelers met selfvertroue wat teen baie goeie spelers uit vier verskillende lande gespeel het.