Vir die 31 000 toeskouers en miljoene kykers voor die kassie het dit gelyk soos ’n naelbytstryd, maar Evan Roos sê die Stormers het nooit getwyfel dat hulle die Bulle in Saterdag se eindstryd van die Verenigde Rugbykampioenskap (VRK) in Kaapstad sou klop nie.
Daar is selfs nie vir die Bulle se drie in die derde minuut en aanslag daarna geskrik nie, sê die Stormers se agtsteman.
“Hulle het in die eerste halfuur gekom met alles wat hulle het. Ons het geweet dat ons net moet vasbyt. Hulle sou nie vir altyd kon aanhou nie,” het Roos Saterdagaand ná die Stormers se oorwinning van 18-13 gesê.