Jake White het nie op hom laat wag nie en Dinsdag die Bulle se nuwe slot-aanwins, Ruan Vermaak, in sy groep van 28 spelers ingesluit wat na Wallis sal reis vir Vrydagaand se Verenigde Rugbykampioenskap-kragmeting met die Ospreys.
’n Gevestigde groep, bestaande uit 16 voorspelers en 12 agterspelers, pak die tog na Swansea aan.
Hoewel die Bulle reeds verseker is van hul plek in die kwarteindronde, sal die Pretorianers in hul laaste groepwedstryd hulself in ’n goeie posisie wil plaas vir ’n potensiële tuiswedstryd in die eerste uitklopronde, met heelwat wat sal afhang van wat in die ander wedstryde oor die naweek gebeur.