Dit het presies 1 minuut en 11 sekondes geneem vir die slagting om te begin in Bloemfontein waar die Cheetahs die Pumas soos ’n laerskoolspan laat lyk het in die spanne se Unlocked-wedstryd.
Dis toe die vleuel Malcolm Jaer die eerste van sy driekuns aan drieë gaan druk het om sy span te help om met 53-31 te wen nadat hulle rustyd reeds 41-3 voor was.
Hy het die bal voor Rosko Specman weggeraap om te gaan druk, maar Specman het uiteindelik toegeslaan, en weer, en toe ’n derde keer, maar hy het verkies om sy driekuns prys te gee en die bal agter die doellyn vir sy kaptein, Ruan Pienaar, te gee om die span se sesde onbeantwoorde drie in net 40 minute te druk.