Dalk was dit Duane Vermeulen se naamgenoot die Noorse dondergod wat besluit het die rugby is só vervelig hy moet ’n bietjie vlam onder ’n bietjie agterente maak, maar ’n nabye donderstorm het die Curriebeker-eindstryd gister op Loftus net betyds opgeskort dat die hele land nie voor hul TV’s aan die slaap geraak het nie.
Maar genoeg gemor, dis nou al afgesaag. Die rugby is al ’n paar weke saai, maar die bliksem het darem vir drama gesorg toe die Bulle die Haaie gepak het en daar kan nie veel twyfel wees dat die beste span gewen het nie.
Die Bulle het die louere in die laaste minute van bykomende speeltyd met 26-19 beklink nadat die telling ná 80 minute 19-elk was. Dis hul 24ste Curriebeker en eerste sedert 2009, toe hulle gemaklik die beste nie-internasionale span in die wêreld was.